Prop. Anthony Cloete is een van ons nuwe proponente wat so pas gelegitimeer is. Maar wie is hierdie man wat sy eie groentetuin het en alreeds vanaf 2006 met beeste en varke op meentgrond boer en ‘n hart vir die landbou het?

Prop. Anthony David Cloete is ‘n kind van die Noord-Kaap, gebore te Nababeep op 4 November 1958. Hy het sy skoolloopbaan tot by Graad 9 aan die St. Cyprians English Church Sekondêre Skool, Nababeep voltooi en in 1999 sy Senior Sekondêre Sertifikaat aan die Porterville Volwasse Sentrum behaal.

“My ouers, wyle Maggie en Davie Cloete, het ons as kinders met godsdienstig grootgemaak. Hulle het ons van kleinsaf geleer oor die liefde van God vir die ganse mensdom,” verduidelik prop. Cloete waar sy godsdienstige invloed vandaan kom. “My ouers het aan die N.G. Sendingkerk Nababeep behoort waar my pa ouderling en my moeder deel van die CSB (Christelike Sustersbond) was. Ander mense wat naas my ouers ook ‘n bydrae tot my geestelike vorming gelewer het, was my Sondagskoolonderwyser, oom Paultjie Fortuin, dr. S.G. Pick, wyle ds. Jan Witbooi, wyle evangelis Ben Engel en ds. William Ficks van Porterville.”

Dit was juis in Porterville waar prop. Cloete besluit het om verder in teologie te gaan studeer: “Die VGK Porterville was my opleidingsgemeente waar ek sedert 1998 as lidmaat betrokke was totdat ek in 2016 met my teologiese opleiding aan die Universiteit van Stellenbosch begin het. My mentor was ds. William Ficks.”

Prop. Cloete het sy mini-tesis vir sy BDiv in 2020 onder supervisie van prof. Shantelle Weber gedoen. Die onderwerp was Die verhouding tussen basiese onderwys en opleiding vir volwassene en Bybelse ongeletterdheid binne die VGK Porterville. In 2021 het hy sy MDiv (Master of Divinitas) ook onder supervisie van prof. Weber verwerf met as onderwerp Die Impak van COVID-19 op die Ongeletterde binne die Verenigende Gereformeerde Kerk Porterville.

En wat is prop. Cloete se visie vir die kerk? Hy antwoord: “My visie vir die kerk is dat daar hoop te midde van wanhoop is. Die Kerk moet haar rol as agent van verandering kan vervul en praktiese oplossings vind om die hedendaagse uitdagings te kan omskep tot voordeel van almal in die toekoms.”

Prop. Cloete is getroud met Marilyn, ‘n tuisteskepper wat graag aan die jeug die kuns van brei en hekel oordra sodat dié kennis nie eendag verlore gaan nie.

Buiten prop. Cloete se groot liefde vir die landbou, het hy ook ‘n Nasionale Diploma in Adult Basic Education and Training (ABET) verwerf en help graag volwasse en jeugdiges wat hul lewensomstandighede wil verbeter.

Kontak prop. Cloete by [email protected] by of 071 829 7703 vir meer inligting.