Prop. Pieter Windvogel is ‘n kind van die Kaapse Wynlande in Robertson. Hy is die seun van Jan Jakobus Windvogel (alreeds 28 jaar gelede oorlede) en Susanna Johanna (neé Keyster).
As kind, het sy pa ‘n groot invloed op sy lewe gehad. “Ek kon altyd na hom gaan met enige kwessies wat op my pad gekom het. Die verhouding tussen my pa en my was meer as net pa en seun; ons was soos vriende en soms ook soos broers,” vertel Pieter. “Gedurende my tienerjare was my pa ook altyd in my lewe teenwoordig gewees. Gedurende hierdie tyd van my lewe het my ma ook in ‘n mate ‘n rol in my lewe gespeel.”
Behalwe dat hy sy vormingsjare op Robertson gehad het, het sy familie op Montagu, waar hy tydens skoolvakansies graag gaan kuier het, hom ook as mens help vorm.
Hy het sy junior skooljare aan die Laerskool De Villiers voltooi en sy Nasionale Senior Sertifikaat aan die Senior Sekondêre Skool Langeberg behaal.
Pieter vertel verder: “Reg aan die begin van my volwasse lewe is my pa ongelukkig oorlede en kon ek gedeeltelik met leiding van my ma die lewe verder aanpak. Dit was egter nadat ek my vrou, Althea ontmoet het dat daar ‘n keerpunt in my lewe sou plaasvind. Saam met haar broer, ds J.D. Wiese, het hulle ‘n groot rol in my lewe gespeel. Iemand anders wat ook in hierdie tyd ‘n groot rool in my lewe gespeel het, was ‘n vriend saam met wie ek by Market Toyota gewerk het. Hy kon altyd leiding gee en ons kon oor enige kwessie praat. Hy het ook altyd ondersteuning en hulp aangebied.”
Maar hoe het dit gebeur dat Pieter ‘n Christen geword het? Hy verduidelik: “Ek glo dat ek as ‘n Christen gebore is, al kon ek nie verstaan waaroor dit gaan nie. Ook gedurende my tiener- en volwasse jare is ek geïnspireer om ook nader aan God te beweeg deur wat ek in ander Christene se lewens en veral my vrou waargeneem het. Ek wou dieselfde ervaar, veral wat Althea gehad het.”
Hy vertel verder: “Dan glo ek dat die omstandighede waarin mens grootword en waarin jy lewe jou ook as persoon vorm om tot die beste wat jy kan, te ontwikkel. Elke keuse wat mens maak, is per slot van rekening jou eie keuse. God het egter die grootste werk in my lewe gedoen.”
En hoe het dit gebeur dat hy besluit het om predikant te word? Pieter vertel: “Ek wou nog altyd, van kinderjare af, predikant word. My lewe het egter eers ‘n paar draaie geloop. Ek het ‘n tweede kans na ‘n naby-doodse ondervinding gekry en toe ek gesond word, wou ek my alles vir die Here se werk en vir Hom gee.
“My tesis het sy ontstaan in my 4de jaar gehad. Met my BDiv-tesis het ek geskryf oor Aanbidding van God in VGK Montagu; Op weg met Bybelse riglyne. Daaraan het ek gehaak, 2 Kronieke 7: 12-22. Vanuit hierdie teks wou ek sien watter Bybelse riglyne ons vandag kan gebruik. Moontlik kan ons ook vanuit die Kroniekeskrywer se konteks, die 4de eeu voor Christus leer waar ons verkeerd gegaan het en hoe om te verbeter.
“My MDiv-tesis het gehandel oor die Kontekstuele verantwoordelike interpretasie van Ou Testamentiese tekste in die konteks van VGK Montagu. Ek het die tekste van 2 Kronieke 7: 1-22 daaraan gehaak. In die MDiv-tesis doen ek egter ‘n vergelykende studie tussen 2 Kronieke 7: 1-22 met die Kronis se bronteks, 1 Konings 9: 1-9. Met hierdie skrywe ondersoek ek of die interpretasie van die tekste nie sodanig was dat dit ook kon lei tot die dwaling van ons mense en ook die gemeente en in die breë konteks van gemeentes rakende die aanbidding van God nie.”
In hierdie tyd het Pieter se gesin ‘n groot rol gespeel. Hy vertel: “Gedurende my studiejare het my vrou en gesin ‘n integrale deel van my studie gevorm. My studie was eintlik ‘n spanpoging wat my hele gesin ingesluit het. Dr Philander het ook ‘n groot rol gedurende my studiejare gespeel. Ek kon enige tyd, indien hy beskikbaar was, ‘n afspraak met hom maak en ons kon gesels oor die studie en soms ook oor persoonlike kwessies waarmee hy altyd bereid was om te help.”
Sy drome vir ‘n gemeente? Hy antwoord: “Ons is kinders van God en tog het ons oor die jare geleef asof God slegs ‘n geleentheids-God is. Wanneer ons Hom nodig het, sou ons Hom nader. Met God se hulp sal ek en my gesin graag saam met die gemeente wou nadink oor God se betrokkenheid in ons geskiedenis en daaglikse lewensomstandighede. Ons wil ook besin oor hoe belangrik dit is dat ons elke dag van ons lewens van God afhanklik is. As gemeente en gemeenskap van God kan ons as die Kerk ook nie los van mekaar lewe nie. Slegs saam, as ‘n gemeenskap en met God se hulp en in sy teenwoordigheid, kan ons hoop op ‘n Nuwe Hemel en Nuwe Aarde. Daar waar geen dood en verwoesting meer teenwoordig sal wees nie; dat ons in liefde vir mekaar sal lewe en die een vir die ander sal omgee soos Jesus terwyl Hy op die aarde gewerk het.”
Pieter se gesin is vir hom baie belangrik. Hy het ook baie belangstellings waarvan die spesiaalste die misterie van God is. Hy is egter ook baie lief vir lees, tuinmaak, stap, kosmaak en om net stil te wees. Hulle bly tans teen die Waboomsberg in Montagu waar hy gelukkig nie nodig het om nou stilte te gaan soek nie; dis reg by sy voordeur!
“Wat my na aan die hart lê, is al die verwoesting, verkragting en moord wat tussen my mense plaasvind. Daarom wonder ek soms of ons goeie Christene is, en indien ons is, waarom doen ons dan hierdie slegte dinge aan onsself?” wonder Pieter.
Kontak prop. Windvogel by 079 477 8443 of [email protected] vir meer inligting.