“Dit was ‘n eer en voorreg om die sessie te kon bywoon. Dit was ‘n geleentheid om weer te kon gaan kyk of ons op die regte pad is – ‘n eye opener.” So getuig broer Jan de Wee,  die leier-ouderling van die VGK Sutherland-kerkraad met wie ds Stephen Pedro, PSD van Gemeentegetuienis, op Dinsdagaand 16 Februarie ‘n verkenningsgesprek oor hul kerkwees gefasiliteer het. “Ek wens ons kerkraad kan dit gereeld doen; ons sal dan ‘n beter gemeente en kerkraad wees … Ek sien uit na die volgende byeenkoms.”

Ds Pedro vertel: “Die byeenkoms is geopen met Bybelgedeeltes uit Psalm 110 en 1 Timoteus 3 volgens die Leesrooster (Revised Common Lectionary) vir 16 Feb 2021. Daar is veral klem gelê op 1 Tim 3: 15 en ons het mekaar geseën met: Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.”

Daarna het die groep kortliks besin oor twee belangrike vrae, naamlik “Wat is my droom vir ons gemeente, en dus vir die kerk?” en “Wat is die mees dringende behoeftes van die gemeente?”

Ds Pedro vertel: “Die terugvoering het veral uitgewys dat die werk wat voorlê groot en gewigtig is, maar terselfdertyd het dit ‘n opgewondenheid losgemaak. Dit het veral die volgende uitdagings uitgewys, naamlik die belangrikheid van samewerking en eengesindheid, asook geestelike opleiding of toerusting wat geestelike groei of herlewing kan teweegbring. Dit kan tegelykertyd ook ‘n paar ander behoeftes aanspreek.”

Hierna het die groep stilgestaan by die profiel van die gemeente. Ds Pedro is baie opgewonde oor hierdie oefening en verduidelik: “Dit is van groot waarde om vas te stel in watter mate die gemeente volgens die GBM (Geïntegreerde Bedieningsmodel) van die VGK  se drie kernbedieninge (Verkondiging en Aanbidding, Diensgetuienis en Gemeentebediening) funksioneer. Die ondersteuningsbedieninge is ook baie belangrik, aangesien dit hul taak is om die kernbedieninge te ondersteun en te help om hul bedieninge in staat te stel om te floreer, sodat dit wat aan die hart van gemeente-wees lê (aanbidding en verkondiging, diens en getuienis, opleiding en koinonia) tot sy reg kan kom; dat dit ‘n impak kan maak op die breër gemeente en gemeenskap.”

Die verkenningsgesprek is afgesluit deur te kyk na verskillende aksies wat geloods kan word om uit te kom by die punt waar die gemeente ‘n missionaal-gerigte (na-buite gerigte), florerende, eensgesinde, meelewende en impakmakende gemeente kan wees. Van die voorstelle wat genoem is, was aksies soos Contextual Bible Reading (Kontekstuele Bybellees), die missionale bordspel, die storiemuur, ens.

Ds Pedro verduidelik: “Hierdie soort aktiwiteite kan op ten minste twee voldag werkswinkels gedek word met een of twee opvolggesprekke deur die gemeentebegeleiers.

“Tydens die gemeente se missionale reis, benader ons dit ook as ‘n proses van lense skoonmaak,” vertel ds Pedro verder. “Ons identifiseer drie lense, naamlik die God-lens, gemeentelens en gemeenskapslens. Ons glo dat ‘n gemeente wat op alle silinders as ‘n missionale gemeente wil funskioneer, moet sorg dat aldrie lense skoongemaak, skoongehou en bymekaargehou word. Hierdie proses kan plaasvind tydens twee opeenvolgende werkswinkels.”

Die kerkraad en ds Pedro (as fasiliteerder) het ooreengekom om die eerste werkswinkel tydens die naweek van 9 tot 11 April 2021 aan te bied. Die fasiliteerder sal dan ook daardie Sondag die erediens lei en die naweek afsluit. En soos suster Eleanor de Water vertel: “Ek kon alles verstaan; dit was vir my ‘n belewenis! Dit was baie goed aangebied en ek is die Here baie dankbaar dat hy vir ds Pedro na ons gestuur het; ek sien uit na nog ‘n keer!”

Suster Julene Davids voeg by: “Wat vir my uitstekend was, is hoe ds Pedro vir ons geleer het hoe ons met mense moet werk en hoe ons kan wandel in die Woord.”

Ds Pedro het die volgende oggend, voordat hy weer in die pad geval het, tyd gemaak om eers ‘n besoek aan die nuwe NG Kerk-leraar, ds Ruan Nieuwenhuis, te bring. Dis was ‘n baie geseënde ervaring waartydens hulle onder andere gesels het oor hoe die VGK- en NG Kerk-gemeente kan uitreik na mekaar en ook mekaar kan ondersteun.

Ons bid die Here se seën op hierdie verdere reis van die VGK Sutherland toe.

Kontak ds. Stephen Pedro gerus by [email protected] vir meer inligting.