
Vlnr: Charmaine Stofberg (CLF), Stephen Pedro (Getuienisaksie) en Rineke van Ginkel (BNS)
Op Vrydag 18 Mei het Stephen Pedro, bestuurder van die Taakspan: Getuienis in en deur Gemeentes, Charmaine Stofberg, bestuurshoof van CLF (http://www.clf.co.za/) en Rineke van Ginkel , navorser by BNS (Beyers Naude Sentrum vir Publieke Teologie: https://bit.ly/2IykLBX) saam besin oor hoe hulle mekaar as vennote kan ondersteun en bystaan in hul onderskeie take.
Rineke van Ginkel het kortliks vertel dat sy in sinodale diens van die Protestantse Kerk in Nederland se missionale been, die Kerk in Aksie, in vennootskap met die BNS by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch besig is met navorsing wat spesifiek gerig is op die behoeftes van die VGKSA Sinode Kaapland. Brandpunte wat tot dusver geïdentifiseer is, is die Oos-Kaap se behoefte aan finansiële bestuur, asook ekonomies-sosiale uitdagings en teologie-opleiding.
Rineke se werk oorvleuel wesenlik met Stephen s’n, alhoewel haar fokus nie hoofsaaklik op getuienis is nie, maar om uitdagings (teologiese, sowel as ander aspekte) te identifiseer, asook watter hulp URCSA-gemeentes en -kerkleiers benodig. Dit moet opgevolg word met die ontwikkeling en fasilitering van maniere om hulle dan by te staan. So, ‘n belangrike fokus van Rineke se werk is opleiding en toerusting; iets wat van onskatbare waarde vir gemeentes kan wees.
Charmaine Stofberg van CLF het genoem dat hulle van die standpunt uitgaan om literatuur rakende behoeftes uit die gemeenskap vir die gemeenskap te ontwikkel. Hulle verskaf GRATIS inligtingspamflette oor relevante onderwerpe in 19 verskillende tale en benodig inligting vanuit gemeentes en gemeenskappe om te weet wat om nog verder te ontwikkel. Hiermee sal Stephen, wat direk met gemeente-uitdagings te doen gaan hê, dus baie kan help.
CLF bedryf ook ‘n uitgewery wat boeke uitgee waarvan die Reformed Family Forum (http://rff.christians.co.za/) se boek, “A Family of Reformed Churches in Africa” en “Voordat ons vergeet sodat ons kinders ook kan weet” belangrike publikasies is.
Volgens Charmaine is dit belangrik dat kerkleiers die deurslaggewende rol wat CLF in die bemagtiging van gemeentes kan speel, sal besef. Charmaine noem ook dat CLF ‘n skryfskoolwerkswinkel beplan vir September; dit sal ‘n groot hulp wees ten opsigte van die slyp van kommunikasievaardighede in ons kerk.
Alhoewel Stephen nog baie kort in sy pos as bestuurder van die Taakspan: Getuienis in en deur Gemeentes is, sal hy op grondvlak baie behoeftes en uitdagings kan identifiseer wat hy aan Rineke sal kan deurgee vir navorsing en aan Charmaine vir die ontwikkeling van inligtingspamflette aan gemeentes.
Kontak ds Stephen Pedro by [email protected] vir meer inligting.