Proponent Vivian Daniel Jansen (55) is gebore in Surrey-Estate, Athlone op die Kaapse Vlakte. Dis ook hier, op die Kaapse Vlakte – in Manenberg – waar hy aan die Silverstream Senior Sekondêre Skool matrikuleer.

Na skool gaan werk hy by die Departement Arbeidsverhoudinge waar hy in geskilbeslegtiging spesialiseer. Hy werk met organisasies soos NBCRFLI (National Bargaining Council for the Road Freight and Logistics Industry) en BIBC (Building Industry Bargaining Council).

As kind het veral sy ouers sy persoonlike en geestelike ontwikkeling help vorm. As volwassene was dit ds BJ Lemboe. “Hulle het my geleer om vir mense om te gee; om nie selfsugtig te wees nie. Hulle het my geleer van hoop en vertroue op God,” vertel prop. Jansen.

Vir prop. Jansen is dit dus baie belangrik om ‘n gemeente te inspireer om die Here met absolute entoesiasme te kan loof; om lekker te kan sing! “Ek was instrumenteel met die totstandkomimg van ‘n lof- en aanbiddingsgroep in ons Welgelegen-gemeente,” vertel hy. Sy skripsie het juis gegaan oor hierdie passie van hom en die titel daarvan was ‘n Kerkhistoriese en Kerkregtelike ondersoek van lof en aanbidding in die VGKSA.

“Geweld en armoede is ‘n taamlike uitdaging in ons gemeenskap. Gepaardgaande hiermee is die misbruik van alkohol en dwelms; die feit dat ons vroue en kinders ook so kwesbaar is, ontstel my,” sê prop. Jansen. Hy sou graag hierdie geweldige gemeenskapsprobleme deur middel van sy gemeente wil help oplos.

 

En hy het drome vir ons mooi land: “Ek droom van ‘n Suid-Afrika waar mense se menswaardigheid erken sal word; waar mense se haglike omstandighede verander sal word; waar ouer mense nie as minder-mens gesien word nie.”

Prop. Jansen is ‘n gesinsmens en hy kan ten opsigte van ontspanning hom nie iets lekkerders voorstel as ‘n vakansie saam met sy gesin nie. Hy is getroud met Jean en het ‘n dogter, Tiffany (25) en seun, Duane-O’Sullivan (21).

Kontak prop. Jansen gerus by 071 671 6956 of 021 633 7282 vir meer inligting. Sy e-posadres is [email protected]